Vrydag 23 Januarie 2015

Eet uit die tuin



Hoogsomer is amper oor die wal maar die dae is nog vol sonskyn. Heerlike reën het die landskap met die pragtigste groen getooi en die veld rondom ons plot is in volle blom met allerhande veldblommetjies.


So gepraat van blommetjies - wat is jou gunsteling dis om voor te berei op 'n warm somersdag? Myne is 'n heerlike slaai met Kappertjie-blommetjies en vars-gekapte kruie-botter, sowel vir die eet as vir die mooi. Kappertjieblare het 'n ietwat peperige smaak en het tien maal soveel Vitamien-C as blaarslaai. Die blomme is eetbaar maar 'n bietjie smaakloos maar gee wonderlike dramatiese kleur aan die slaai.


Natuurlik is hoenders en 'n groentetuin 'n moet vir enige tuinliefhebber - daar is niks beter as varsgeplukte slaai en eiers vars uit die nes nie!



Nog 'n gunsteling is eierslaai. Ek kry tussen 5 en 8 eiers 'n dag van my hoenders, so ek het al allerhande dinge met eiers probeer! My gunsteling eierslaairesep het ek vanaf Sarie-tydskrif gekry :

4 hardgekookte eiers 
2 huisies vars knoffel, fyngedruk 
2 koppe botterblaarslaai (ek gebruik gewone blaarslaai)
100 ml olyfolie 
30 ml suurlemoensap 
100 g Parmesaan-kaas, gerasper 

Gooi sout en vars gemaalde swartpeper na eie smaak oor. Was die blaarslaai goed af. Droog die blare deeglik af met kombuispapier. Druk die eiers met ’n vurk fyn. Sit die blare in ’n groot slaaibak en strooi die Parmesaan-kaas oor. Voeg die eier by en meng deur. Klits die olie, suurlemoensap en knoffel saam. Gooi die slaaisous oor die blare net voor jy dit opskep (die blare sal pap word as dit staan). Onthou, die kaas bevat reeds heelwat sout; hou jou hand lig met die soutpot. Smaail! En Kappertjieblomme lyk net so mooi in hierdie slaai.


Twinings het 'n paar heerlike vrugte- en kruievermengings bekend gestel wat jou dors op 'n warm somersdag dag kan les. Hulle kombineer sappige vrugtegeure soos pomelo, lemoen, swartbessie en framboos met aromatiese kruie vir 'n strelende kaffeíenvrye tee wat enige tyd van die dag of nag gedrink kan word of dit heerlik stomend is of met ys op 'n somerdag. My gunsteling is Ginseng & Vanilla; ek kan Vanielje in ENIGE iets drink of eet!

Jy kan natuurlik ook jou eie tee voorberei met 'n paar plante uit jou tuin soos kruisement, Bee Balm (Monarda didyma) en Lemon Balm, ook van die kruisement familie en roosblare en sonneblomsaad.

 
Foto vanaf Wikipedia

Het jy geweet vanielje is van die orgidee-familie? Dit groei meesal in tropiese lande, en die grootste produsente sluit in Madagaskar, Indonesië, Sjina, Mexiko, die VSA (Florida) en verskeie state in Sentraal-en Suid-Amerika. Die kriteria vir die kwaliteit van vanielje is die lengte van die peule - hoe langer, hoe duurder. En Vanielje is die tweede duurste spesery na Saffraan.

Saffraan (waarvan ek NIKS hou nie), is 'n spesery van die blom van die Saffraankrokus, en is inheems aan Suidwes-Asië. Ek het g'n idee waarvoor dit gebruik word nie en is ook nie juis van plan om dit OOIT te gebruik nie!


.
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...