Woensdag 29 Julie 2015

Blousyselbos - Vergeet-my-nie (Plumbago)

Daar is ’n koel kalmte aan die massas floksieagtige, sagte blou blommetjies van Plumbago auriculata (blousyselbos) wat wild oor grensdrade en oor mure spoel. Kan daar ’n mooier heiningplant of meer ontspanne struik wees wat so geil blom in ’n warm somer tuin?


Een van my gunsteling plante, die Blousyselbos (Plumbago auriculata) in sy blou vorm, wat ek nie meer het nie, hierdie foto is in my vorige tuin geneem. Dis ‘n bosserige struik en blom vanaf laat-lente tot herfs en maak ’n uitstekende heiningplant. Dit groei beste in ’n sonnige tot semi-skaduposisie en is baie ’water wise’ en voëlvriendelik. Dit word ook gereeld besoek deur skoenlappers en is een van die gasteplante vir die gewone Blou Skoenlapper (Cyclyrius pirithous). Hulle sê die plant weerstaan semi-koue en is ryp-gehard, maar my ondervinding was dat die ryp dit elke jaar tot die grond afgemaai het. Gelukkig herstel dit gou en het elke jaar net groter en groter geword.

Daai stekelrige en harerige gedeeltes wat jy daar sien tussen die blomme is verskriklik taai en hemel verhoed dat jy tussen dit deurkruip (soos ek baie maal gedoen het om die ou gedeeltes uit te snoei), want jy kom daaruit met omtrent die hele bos wat aan jou vassit!

Die Blousyselbos is inheems aan Suid Afrika en kom voor in die Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal asook in Gauteng en aanliggende dele van die Vrystaat en NoordWes Provinsie. Was voorheen bekend as Plumbago Capensis.

As informele heiningplante vir groot tuine is hulle beslis ’n goeie keuse. Die struike sal sonder inmenging van ’n tuinier met groot gemak ’n volwasse hoogte van meer as 3m bereik en 3m breed word. Met minder ruimte en ’n skerp snoeiskêr kan jy die lieflike inheemse blousyselbos ook in klein tuine plant en ’n lae skerp geknipte heining kweek, ’n netjiese spesimen-struik vorm wat ’n onooglike plekkie moet afskerm, of jou selfs oorgee aan die siersnoeikuns en hulle oplei in die vorm van hoogstamboompies. Hulle is ewe mooi in potte as hulle netjies gesnoei word, gereeld met ’n vloeibare misstof bemes word en baie water kry wanneer dit warm is.

Die plant se loof is fyn en saggroen. Die blomme is poeierblou of wit en herinner aan die outydse, suikersoet en taai floksies in Ouma se somertuin waarvan ons as kinders altyd die soet nektar uitgesuig het en oorbelle gemaak het.


DIE BLOM
Ons weet almal van ’n tuin v-o-l blomme,
elkeen sy eie kleur, sy eie geur.
Nou, ons elkeen soek die perfekte blom,
maar ken jy die een,
wat saam met jou huis toe kom?
Sagkens soek,
ek moet versigtig wees ek sien jou raak,
dit moet! jy wees.
Alles wat ek in ’n blom kon kry vind ek in jou,
kom saam my! Doudruppeltjies klein,
en druppeltjies fyn op jou blare,
mooipraat, pyn.
Om jou wortels met my hande gegrawe jou losgemaak,
uit die aarde,
outhede begrawe.
In ’n pot goud jou weer geplant.
Altyd!, sal ek jou water gee vir wind en onkruid,
sal ek sê nee!
Want in ’n huis van glas is waar jy sal bly
vir ewig en altyd, ek en jy!
- Jan Allerman


.

Vrydag 17 Julie 2015

Bloedrooi die aalwyn in winter

W&N waterverf van 'n aalwyn in my tuin

Behalwe lente, somer en herfs, is winter een van my gunsteling seisoene! Smaail! Dis die tyd wanneer die bloedrooi aalwyne tuin en landskap versier, wanneer die hemelruim op sy blouste is en die lug kraakvars in jou asem kom sit. Dis ‘n tyd wanneer voëltjies lekker in die oggend sonnetjie bak in die blaarlose takke van die Karee, ‘n tyd wanneer mens heerlik in die son kan sit en skets en koffie drink.

Winter is ‘n tyd van lekker met vriende kuier voor a warm vuurtjie, deur foto-albums blaai en mooi herinneringe oproep. Iets het verlore gegaan in hierdie digitale era wat ons nou beleef. Al my foto’s van die afgelope 10 jaar is op my rekenaar gestoor. Dis nie dieselfde om deur foto’s te blaai op die laptop voor die vuurtjie nie.

Winter is ook tyd vir bietjie stil wees. Selfs die natuur raak stiller, rus bietjie en maak gereed vir die lente wat voorlê. In winter raak ek ook stiller. Neem ‘stock’ van wat gedoen moet word in die tuin oor ‘n maand of so of sit sommer net en lees ‘n boek, snoesig toegedraai in ‘n warm kombers met ‘n heerlike warm sjokolade-drankie byderhand.


En om nie eers te praat van die wonderlike klere vir winter nie! ‘n Mooi warm trui, ‘n pragtige jas, ‘n snoesige serp om die nek en heerlike warm stewels, wie kan vir meer vra?!

Foto vanaf die internet

::

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...