Saterdag 05 September 2015

Eenvoudig en moeite vry


Tuine wat voortdurend aandag verg, word deesdae al skaarser namate mense se vrye tyd kosbaarder word. ’n Groot grasperk, oordadige blombeddings en ’n netjiese, formele uitleg verg nougesette aandag aan detail. Daar is rande om te sny, heinings om te knip, blare om te hark, dooie blomme om uit te breek, struike om te snoei, jaarplante om te saai en uit te plant, bolle om te lig en rose wat bespuit en gesnoei moet word. Ek het my grasperk gedeelte met die helfte verminder, paadjies en nog beddings aangebring  en ook van die meeste uitheemse en moeite-vergende blomme en plante ontslae geraak. Om elke jaar bolle te lig en in die lente weer te plant, is nie vir my beskore nie! Net so om plante aan te hou wat elke winter met "frost covers" toe gemaak moet word.


Ek het deesdae ook nie veel sin daaraan om plante wat gepamperlang moet word, aan te hou nie. Die Pachypodium lameri in die middel van bostaande foto was eers in 'n pot, elke jaar 'n groter pot, wat ek jaar na jaar elke winter en elke lente in en uit gedra het om dit teen die ryp te beskerm, totdat ek eendag genoeg gehad het en hom in 'n vol-son kol in die tuin geplant het. Hy het pragtig gevorder vir 'n paar seisoene totdat een partikulêre ysige winter een te veel was vir hom. Hierdie pragtige plant is vanaf Madagaskar en sal hier in Suid Afrika alleenlik in 'n ryp-vrye tuin aard.


Waterbesparing is ook nog ’n rede om jou tuin so te ontwerp dat dit die minimum onderhoud verg en wat gebruik maak van inheemse plante en materiale en strukture wat die minste moeite vereis. Aalwyne en sekere vetplante is baie geskik vir hierdie doel - verg min water en aandag en beloon mens elke jaar met die pragtigste kleur in die tuin.



Daar is selfs skadu-liewende aalwyne wat uitstekend sal groei in half-skadu, soos die pragtige A. zebrina hierbo. Hulle Koraal-pienk blomme lyk pragtig in die skaduwee.



'n Paar interessante wel-geplaasde strukture, potte en groot klippe sal ook interessantheid aan die tuin verleen sonder veel onderhoud of moeite.




Hierdie groot swamme het vanself langs my tuinpaadjie langs die groot klip opgekom en na 'n paar weke was hulle kliphard, soos pottebakkers-sampioene!

(Wikipedia sê 'n Swam of skimmel is enige lid van 'n groot groep eukariotiese organismes wat mikro-organismes soos gis en muf, asook die bekender sampioene insluit. Swamme vorm die koninkryk Fungi, 'n biologiese koninkryk wat apart is van die plante en diere. Een groot verskil tussen plante en swamme, is dat swamme se selle selwande het wat chitien bevat, terwyl plante se selwande sellulose bevat. Hierdie en ander verskille dui daarop dat swamme 'n aparte groep verwante organismes is, die sogenaamde Eumycota of "ware swamme"; 'n groep wat 'n gemeenskaplike voorouer deel. Swamme word dwarsdeur die wêreld aangetref en die meeste is onopvallend vanweë hul klein grootte en strukture, die manier waarop sommige hulself kamoefleer en as simbiote van plante, diere en ander swamme. Hulle kan opvallend word wanneer hulle "vrugte" dra: sogenaamde "sporokarpe", soos sampioene of muf. Swamme vertolk 'n belangrike rol in die ontbinding van organiese stowwe en het fundamentele rolle in die herwinning en verdeling van voedingstowwe in die natuur.)


Hou jou tuin eenvoudig en moeite vry en vol interessanthede en jy sal nooit daardie skuldige gevoel van "O! Ek verwaarloos my tuin!" kry nie!

.
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...