Donderdag 22 Oktober 2015

Skep 'n water-vriendelike tuin


Dit is belangrik om te besef dat ‘n waterwystuin wat nou aangeplant word nie net in die afsienbare toekoms nie, maar ook oor 40 of 50 jaar voordele sal inhou wanneer water selfs nóg skaarser sal wees.

Die uitdaging vir ons almal is om water in ons tuine optimaal te benut as ‘n leefwyse. Die beste manier om dit te doen, is om die reuseverskeidenheid inheemse blomme van ons omgewing tot ons voordeel te benut

Grondwaterretensie is lewensnoodsaaklik vir 'n plant se vermoë om water te gebruik. Probeer om 'n grondbenattingsmiddel te
gebruik om die grond te help om water wat gegee word, te behou en te absorbeer.

Grondvoorbereiding
Grondbedekking en komposverryking hou die volgende voordele in:

bewaar grondvog en verminder die verdamping van water
voorkom gronderosie en water wat wegloop, en behou maksimum water
verminder onkruid en bespaar só water
absorbeer hitte en hou die grond daaronder koel
verminder temperatuurskommelinge
verbeter die grondtoestand en voedingstowwe tydens die verrotting van kompos
Strooi, bassnippers, gruis, klippies, blootgestelde aggregaat, neutdoppe en blare is ook materiaal wat as deklaag vir grond
gebruik kan word.

Gryswater of water wat in die huis weggegooi word, word dikwels gemors. Dit kan liewer in die tuin gebruik word. Baie mense het maniere uitgedink om badwater en reënwater op te vang en dit vir tuingebruik te herwin.

Minder water gaan deur verdamping verlore wanneer tuine vroegoggend natgemaak word. Sekere plante ontwikkel
swamme wanneer dit saans natgemaak word - soos skimmel op rose en jakobregoppe, en roes op grasperke.

Carex ‘Frosted Curls’ is ’n ideale grassie om te koop.  Polle raak so 40 tot 60 cm hoog.  Verkies volson of spikkelskadu en nie te veel water nie, maar moet nooit die plante laat uitdroog nie.  Hierdie grassies maak oulike water-wyse grondbedekkers wat 'n sagte golwende kontras vorm met harde tuin paadjies.  Ook ideale vuller-plante.


Saterdag 10 Oktober 2015

Kaktus- en Vetplantversorging


Al kom vetplante oorspronklik uit dorre streke en gedy oor die algemeen in arm grond, is dit nie te sê dat hulle nie water of voeding moet kry nie. Vetplante is elke tuinier se droom. Elke verskillende plant bied iets besonders: Aan die persoon wat nog moet leer om plante aan die lewe te hou, tot die huiseienaar­ wat water wil bespaar!


Hoe dikwels moet hulle water kry?
Daar is nie ’n antwoord wat in alle gevalle geld nie. Daar is ’n direkte verband tussen water, lig, temperatuur, grondtoestande en vogtigheid. Hoe sterker die lig, hoër die temperatuur en minder die vogtigheid, hoe meer dikwels is water nodig. Die meeste kaktusse en vetplante het ’n aktiewe groeiperiode vir omtrent ’n 1/3 van die jaar. Tydens dié aktiewe periode kan gereeld natgegooi word en moet misstof toegedien word. Die aktiefste tyd vir die meeste kaktusse is in die lente en vroeg-somer.
Wanneer dié periode verby gaan, moet water minder gereeld gegee word soos die winter nader kom. Hulle het baie min water in die koue maande nodig. ’n Goeie natmaak een keer per week in warm weer en een keer per maand in die rusperiode is ’n goeie wegspringplek soos u u plant se behoeftes leer ken. ’n Ander benadering is om dit deeglik nat te maak wanneer die grond heeltemal droog is. As u twyfel, moenie water gee nie.

.
Hoe dikwels moet hulle voeding kry?
Te veel misstof kan slegter wees as glad geen misstof nie. Gebruik ’n misstof wat ’n lae stikstofinhoud het teen omtrent ½ tot ¼ van die aanbevole toediening.
.

Wat is die beste grond vir kaktusse en ander vetplante?
Die meeste potplantgrondmengsels wat in die handel beskikbaar is, is te ryk aan vars organiese materie vir dié plante. Die belangrikste faktor by die kies van ’n plantmedium is dat dit voedingstowwe, water en lug na die wortels moet deurlaat en poreus genoeg is om water te laat dreineer. Baie kaktuskwekers gebruik ’n vermenging van ’n lae veenplantmengsel en puimsteen (50/50). Sand, klein klippies en vermikuliet word ook deur baie suksesvolle kwekers bygevoeg. Eksperimenteer met verskillende kombinasies om die regte kombinasie vir u toestande te verkry. ’n Bolaag van fyngemaakte graniet of fyngruis lyk goed en hou ook voordele in. Dit keer dat die bogrond vinniger as die res van die grond in die pot uitdroog, hou die basis van die plant droog en help met die egalige verspreiding van water.

.
Direkte son en lig is nie dieselfde nie!
Vetplante het lig nodig, maar hulle groei beter as hulle nie in die middagson bak nie. In die natuur sal u jong plante aantref onder ’n bos, boom of iets anders wat gefilterde lig deurlaat. As nuwe groei aan u plant bleekgroen en ekstra lank is, het dit meer lig nodig. As die kant van u plant wat na die ligbron wys, geel, bruin, rooi of ingekeep is, kry dit te veel lig.

.
Vetplante hou nie van dooie lug nie. Voorsien goeie lugsirkulasie vir u plante.


::

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...