Friday, 30 January 2015

Medisyne uit jou tuin - Aloe ferox


Aloe ferox, die Kaapse aalwyn, is ‘n inheemse plant van Suider Afrika. Dit word in die Suid Kaap, Oos Kaap en suidelike gedeelstes van KwaZulu/Natal, Vrystaat en Lesotho aangetref.

Die blaar van die Aloe ferox plant bevat twee verskillende sappe, nl. geel bitter sap en wit aalwynjel. Albei die sappe is heilsaam vir die liggaam en word uitwendig sowel as inwendig gebruik. Die bitter sap is direk onder die groen skil geleë en is in werklikheid nog deel van die skil. Wanneer ‘n blaar van die plant afgesny word vloei hierdie geel bitter sap spontaan uit die blaar uit.  Wanneer die bitter sap gekonsentreer word, word bitter kristalle of bitter poeier gevorm. Die binneste vlesige deel van die blaar is jellierig en bestaan uit ‘n wit slymerige sap wat aalwynjel genoem word. Aalwynjel is nie bitter nie.

In Suid Afrika blom die aalwyne in die winter. 'n Interessante feit is dat hul geneties ingestel is om in die Noordelike Halfrond gedurende hulle somer blom, wat dan natuurlik winter is hier in Suid Afrika.


Talle mense gebruik aalwyn vir spysverterings klagtes soos bv. sooibrand, spastiese dikderm, koliek, maagsere, hardlywigheid ens., blaasontsteking, chroniese moegheidsindroom, diabetes, geelsig, hoë bloeddruk, hoofpyn, kanker, lewerontsteking, oor-, neus-, en keelontstekings, lusteloosheid, mondsere, onreëlmatige menstruasie, ontsteking van die prostaat, psoriase, slaaploosheid, tandvleisontsteking, vaginale ontsteking, depressie, asma, brongitis, emfiseem, sonbrand, hooikoors, aknee, hepatitis, sinusitis, krampe in bene, swaminfeksies soos bv. atleetvoet, onderaktiewe skildklier, artritis, rekmerke, dermatitis, hitte uitslag, brandboudjies, absesse, insekbyte, aambeie, skaafplekke, gordelroos, lewervlekke, skilfers, haarverlies, waterpokkies, littekens, vratjies, verstuitings en verrekkings, cholesterol en nog vele meer.



Aloe ferox is nie toksies of gewoonte vormend nie.

Geen nadelige newe-effekte is bekend nie. Uitsonderlike gevalle van allergie kom wel voor.
Aloe ferox jel is VEILIG vir swanger vroue, sogende moeders, babas (wat al vrugtesap drink) en persone met ingewandsirritasies.



Aalwyne word in die veld geoes. Daar in die veld word ‘n gat in die grond gemaak. Hierdie gat word met ‘n plastiek vel uitgevoer. Vier tot agt onderste blare van ‘n volwasse plant word naby die stam afgesny. Twee tot driehonderd blare word in ‘n sirkel om die gat opgestapel. Die afgesnyde kante van die blare word binnewaarts gerig sodat die geel bitter sap wat uit die blare vloei, in die gat opgevang word. Na ‘n paar uur word verskeie sulke opgaargate se inhoud versamel. Om bitter kristalle te verkry, word die bitter sap in ‘n metaal drom gegiet. Die drom word oor ‘n oop vuur verhit. Die sap word voortdurend geroer terwyl dit verhit word, totdat die volume daarvan as gevolg van verdamping gehalveer het. Die warm sap word dan in ‘n tinblik oorgegiet waar dit tot ‘n soliede kristal stol waar dit afkoel. Hierdie soliede harde blok kan dan in kleiner kristalle van die verskeie groottes gebreek en gesplinter word. Die bitter sap kan ook gedroog word om ‘n geel fyn bitter poeier te verkry.
(Inligting vanaf 'Aloe ferox Africa'



Aalwyne het groot, dik, blare wat wissel in kleur van grys tot heldergroen. Die blare het 'n wasagtige tekstuur en is goed aangepas vir die dorre klimaat waarin aalwyne aangetref word. Die klein, buisagtige blomme van die aalwyn is geel, oranje of rooi en groei in groepe.

Die aalwyn of alwee (Aloe) is 'n eensaadlobbige vetplant en die saad word maklik deur voëls en die wind versprei. Ek het 'n hele paar wat sommer vanself langs een van die paadjies in my tuin opgekom het.







Hierdie aalwyn vertoon ook mooi as 'n aksentplant in die somer.

.




 

Monday, 26 January 2015

Kweek 'n Laventelbos



Elke tuin behoort ’n laventelbos te hê – dit is maklik om te kweek, het min water nodig en is ongelooflik bevredigend. En daar is soveel waarvoor mens dit kan gebruik, soos byvoorbeeld:

  • Hang bosse laventel op om droog te word in ’n donker, droë plek. Wanneer dit droog is, kan jy dit in potpourri gebruik, in die vuurmaakplek gooi vir ’n heerlike reuk of sakkies van die gedroogte blomme in jou kaste sit om motte uit te hou.
  • Laventel is ’n pragtige versiering vir koeke en nageregte, maar jy kan ook gedroogte laventelblomblaartjies by jou koekmengsel voeg. Die geur van laventel smelt baie lekker saam met sjokolade.
  • Sukkel jy om te slaap? Sit ’n vaas met laventel in jou slaapkamer. Die geur van laventel het ’n kalmerende en ontspannende uitwerking.
  •  Geborduurde sakkies met droë laventel en Laventelolie kan ook gebruik word vir vismotplae.


(Foto vanaf Pinterest)

Laventel en Byewaksseep
Hierdie is ‘n klein reseppie, maar jy kan natuurlik die mates vermeerder teen dieselfde verhoudinge soos wat jy nodig het:

  • 114g Gliserien basis-seep
  • 10 Druppels laventel botaniese (essential) olie (LW. Nie geurolie nie)
  • 1 Druppel pers/laventel kleursel
  • 1 Teelepel byewaks

Smelt die gliserien-seep op lae hitte of jy kan dit selfs in die mikrogolf doen. As dit gesmelt is, verwyder dit van die hitte, voeg die byewaks by en roer totdat dit gesmelt is en voeg dan die botaniese olie en kleursel by. Roer deur en gooi in jou gietvorms.

Sarie-tydskrif het selfs 'n Laventel-skons resep :

  • 500 ml koekmeel
  • 15 ml bakpoeier
  • 60 ml ongesoute botter
  • 60 ml suiker
  • 15 ml gekapte laventel
  • 150 ml melk

Voorverhit die oond tot 180 °C. Sif die meel en bakpoeier saam. Vryf die botter in die meel tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg die suiker en gekapte laventel by die meelmengsel.

Voeg nou genoeg melk by om ’n stywe deeg te vorm. Druk die deeg plat op ’n meelbestrooide oppervlak en sny die skons uit met ’n koekiedrukker.

Plaas die skons op ’n gesmeerde bakplaat en smeer ’n bietjie melk oor elkeen.  Sprinkel met suiker en sit ’n takkie laventel bo-op.

Bak vir 10 tot 12 minute. Sit voor saam met konfyt of roosblaarjellie en geklopte room.


Laventel lyk ook pragtig in potte geplant en verhelder enige hoekie van die tuin, paadjie of die stoep. Dis maklik om steggies te neem van 'n laventelbos - pluk 'n takkie en doop in hormoonpoeier en plant dan in 'n pot gevul met goeie potgrond. Sit dit op 'n plek waar dit 'n paar uur oggendson kry totdat die plantjie mooi pos gevat het voor jy dit in vol son sit.

Laventel se natuurlike omgewing is oop, droë en klipperige aarde. Hulle is waterwys, vaar die beste in die vol sonlig en hou van goed gedreineerde grond. Hoewel Laventel (soos alle plante) sal baat by goeie kompos, hoef die grond nie té ryk te wees nie. Laventel hou glad nie van ‘n nat, bedompige klimaat nie en is geneig om gou vrot te word. Sommige soorte groei redelik uitspattig en moet in toom gehou word as dit in ‘n meer formele omgewing geplant is. Andersyds is dit ‘n plant wat min sorg verg. Die plante kan in die lente en herfs teruggesnoei word as dit stokkerig raak of in ‘n heiningvorm gesnoei moet word. Laventel kan ligte ryp hanteer en kan matige droogte hanteer. As ‘n gemiddelde reël is die gryser soorte meer gehard as die groener variëteite.

Friday, 23 January 2015

Eet uit die tuin



Hoogsomer is amper oor die wal maar die dae is nog vol sonskyn. Heerlike reën het die landskap met die pragtigste groen getooi en die veld rondom ons plot is in volle blom met allerhande veldblommetjies.


So gepraat van blommetjies - wat is jou gunsteling dis om voor te berei op 'n warm somersdag? Myne is 'n heerlike slaai met Kappertjie-blommetjies en vars-gekapte kruie-botter, sowel vir die eet as vir die mooi. Kappertjieblare het 'n ietwat peperige smaak en het tien maal soveel Vitamien-C as blaarslaai. Die blomme is eetbaar maar 'n bietjie smaakloos maar gee wonderlike dramatiese kleur aan die slaai.


Natuurlik is hoenders en 'n groentetuin 'n moet vir enige tuinliefhebber - daar is niks beter as varsgeplukte slaai en eiers vars uit die nes nie!



Nog 'n gunsteling is eierslaai. Ek kry tussen 5 en 8 eiers 'n dag van my hoenders, so ek het al allerhande dinge met eiers probeer! My gunsteling eierslaairesep het ek vanaf Sarie-tydskrif gekry :

4 hardgekookte eiers 
2 huisies vars knoffel, fyngedruk 
2 koppe botterblaarslaai (ek gebruik gewone blaarslaai)
100 ml olyfolie 
30 ml suurlemoensap 
100 g Parmesaan-kaas, gerasper 

Gooi sout en vars gemaalde swartpeper na eie smaak oor. Was die blaarslaai goed af. Droog die blare deeglik af met kombuispapier. Druk die eiers met ’n vurk fyn. Sit die blare in ’n groot slaaibak en strooi die Parmesaan-kaas oor. Voeg die eier by en meng deur. Klits die olie, suurlemoensap en knoffel saam. Gooi die slaaisous oor die blare net voor jy dit opskep (die blare sal pap word as dit staan). Onthou, die kaas bevat reeds heelwat sout; hou jou hand lig met die soutpot. Smaail! En Kappertjieblomme lyk net so mooi in hierdie slaai.


Twinings het 'n paar heerlike vrugte- en kruievermengings bekend gestel wat jou dors op 'n warm somersdag dag kan les. Hulle kombineer sappige vrugtegeure soos pomelo, lemoen, swartbessie en framboos met aromatiese kruie vir 'n strelende kaffeíenvrye tee wat enige tyd van die dag of nag gedrink kan word of dit heerlik stomend is of met ys op 'n somerdag. My gunsteling is Ginseng & Vanilla; ek kan Vanielje in ENIGE iets drink of eet!

Jy kan natuurlik ook jou eie tee voorberei met 'n paar plante uit jou tuin soos kruisement, Bee Balm (Monarda didyma) en Lemon Balm, ook van die kruisement familie en roosblare en sonneblomsaad.

 
Foto vanaf Wikipedia

Het jy geweet vanielje is van die orgidee-familie? Dit groei meesal in tropiese lande, en die grootste produsente sluit in Madagaskar, Indonesië, Sjina, Mexiko, die VSA (Florida) en verskeie state in Sentraal-en Suid-Amerika. Die kriteria vir die kwaliteit van vanielje is die lengte van die peule - hoe langer, hoe duurder. En Vanielje is die tweede duurste spesery na Saffraan.

Saffraan (waarvan ek NIKS hou nie), is 'n spesery van die blom van die Saffraankrokus, en is inheems aan Suidwes-Asië. Ek het g'n idee waarvoor dit gebruik word nie en is ook nie juis van plan om dit OOIT te gebruik nie!


.

Tuesday, 13 January 2015

Wat is 'n tuin sonder vygies?

 Vygie - Lampranthus roseus
..
Ons as plantliefhebber is maar al te geneig om die wonderskone en die interessante in die natuur elders te wil gaan soek. En so word die juweeltjies rondom jou voete skoon misgekyk. Vandat ek my eerste Vygie bekom het, het ek inligting begin soek en hoe meer ek begin nalees het oor vygies, hoe meer het ek onder die betowering van hierdie magic gekom.
.
.

.
Baie lesers het êrens 'n verbintenis met vygies, al is dit kinderdaeherinneringe oor hul asemrowende lente-blommeprag. Daar is 127 genera in die vygiesoortige familie van plante en hulle alleen verteenwoordig 63% van ons algehele inheemse vetplante en 10% van ons inheemse blommeskat.

.
Baie lesers het êrens 'n verbintenis met vygies, al is dit kinderdaeherinneringe oor hul asemrowende lente-blommeprag. Daar is 127 genera in die vygiesoortige familie van plante en hulle alleen verteenwoordig 63% van ons algehele inheemse vetplante en 10% van ons inheemse blommeskat.

Alle kleure word in die vygie-familie verteenwoordig behalwe swart, grys en bruin. Só gewild is hulle oorsee dat 'n vygie-vereniging reeds in Engeland gestig is met lede oor die hele wêreld. Die vygie-familie (Mesembryanthemaceae) is die wêreld se grootste vetplantfamilie en is eg Suid-Afrikaans aangesien 98 persent van dié familie hier voorkom. Daar is min vygiesoorte wat nie tuinboukundige potensiaal het nie. Dié familie wissel van die dwerg- beeskloutjies (Lithops spp.) uit die Karoo en Boesmanland (gewild as potplante) tot die rooivyebos (Stoeberia arborea) van Namakwaland en die Richtersveld, tot 3,5m hoë struike. 
.
.
Die grootste konsentrasies vygies kom in die winterreënvalstreke voor. Hul vrugkapsules is van die ingewikkeldstes in die plantewêreld en maak onder meer gebruik van die krag van vallende reëndruppels om die saad te versprei.
.
Die hoof-blomtyd van tuinvygies is in die lente. Dié vygies wissel van die plantgroeiende, grondbindende soorte tot struike van 1 m hoog. Party is weer dwerg- en polvormig. Hulle verkies 'n oop sonnige omgewing en goedgedreineerde grond. Groter soorte wat aanbeveel word, is die Lampranthus amoenus, 'n struikie met helderpers blomme in die lente wat tot 1m hoog word. Die L. watermeyeri het ligpienk blomme en blom weer in die vroeë lente. Mediumgrootte vygies is die appelkooskleurige roosvygie (Lampranthus roseus) en die L. multiradiatus van verskeie skakerings. Die L. glaucus het weer goudkleurige blomme, en die L. aureus helder-oranje blomme. Albei is mediumslagtig. Laasgenoemde blom in September. Die douvygie (Drosanthemum speciosum) is ook van ons mooistes met blomme wat varieer van rooi tot geel.
.
Die begin van 'n nuwe vygie
 
Wanner jy vygies plant, onthou om die groter soorte in die agtergrond te plant en die kleineres in die voorgrond. Die struikagtige vygies kweek seker van die maklikste en steggies kan regstreeks in die grond gedruk word. 'n Steggie van 5 cm tot 15 cm is voldoende. Die meeste tuinvygie-soorte is vinnig groeiende, kortlewende pioniersoorte en daarom moet steggies so elke drie jaar uitgeknip en ingelê word. Die steggies bewortel gou en blom weer in die lente.
.
Vygies kan ook maklik van saad gekweek word. Saai gedurende die somer of herfs in goed gedreineerde grond, en bedek met 'n dun lagie sand. Hou goed nat en die saad behoort binne sowat drie weke te ontkiem. Voeg 'n swamdoder by.
.

Vygies is besonders ten opsigte van hulle saadverspreiding. Die saadjies is kenmerkend vir elke genus en spesie in die ewe kenmerkende saadkapsule gehuisves. Dit is die struktuur van hierdie kapsule en die manier waarop die saadjies daarin gehuisves is wat plantkundiges gebruik om die spesies van mekaar te onderskei.
.

Die meeste genera se saadverspreiding hou verband met die oop en toegaan van hierdie kapsule in vogtige omstandighede. Die kielstrukture van die kapsule is hoogs gevoelig vir vog, swel uit en lig die kleppies op. Só spoel reëndruppels in die meeste gevalle die fyn saadjies uit die saadkamers van die kapsule. Merkwaardigerwys gebeur dit alles nie net met een enkele reënslag nie, maar kan 'n paar keer opeenvolgend gebeur. So verseker die plante hul saadverspreiding in die gunstigste omstandighede.
.
'n Mooi idee om vygies te vertoon - foto vanaf Pinterest

::

Saturday, 3 January 2015

Balsemkopiva - Bulbine frutescens


‘n Inheemse en pragtige en vrolike plant vir jou tuin wat oulike randplante asook houer plante maak is Bulbine frutescens of Balsemkopiva. Die plantjie groei maklik en alhoewel ek myne as saailinge gekoop het, kan jy eenvoudig ‘n stukkie in die grond druk en omtrent drie weke later het jy ‘n nuwe plantjie.


Balsemkopiva plantjies benodig nie baie water nie, hulle is waterslim plante en hulle oorleef ook taamlike swaar ryp redelik maklik. Hulle kan oorleef op baie droë gebiede en hou van vol son. Boonop lok hulle baie bye en skoenlappers na jou tuin. 


Dis ‘n eg Suid Afrikaanse plantjie met baie medisinale waarde. Die blaarsap word gebruik vir onder andere sere, skrape, gebarste lippe, aknee, liddorings, omlope en insek bytplekke. Met tuinwerk is dit onvermydelik om soms skrape en steke op te doen, dan pluk ek sommer 'n blaartjie (of stengel) en smeer die sap aan die wond.


Daar is nie nóg ’n medisinale plant wat so veeldoelig soos die kopieva (Bulbine frutescens) is nie. Geen huishouding behoort daarsonder te wees nie. Dié krui is ’n ongelooflike kuur vir enige velkwaal. Dit kan gebruik word om velkwale soos ekseem, byt- en steekplekke, sproete, aknee, velvlekkies, liddorings, bloublasie-wonde, brandwonde, sonbrand, gebarste lippe en bedsere te behandel. Dit bevat ook antibiotika en dien as bloedstelpmiddel en ligte ontsmettingsmiddel. Selfs wintershande en bruin vlekkies op die hande kan met bulbine-produkte behandel word.

Die pragtige blomme van Bulbine


Balsemkopiva vertoon pragtig in enige pot solank as dit in vol son is. Alhoewel droogte-bestand, groei Balsemkopiva baie weliger as dit baie water kry.

 Bulbine vertoon pragtig teen 'n aftergrond van Afrikaners 

Kappertjies groei welig sommer so tussen die Bulbine 

As jy bulbine wil plant, koop ’n plantjie by jou naaste kwekery. Maar dit is vreeslik maklik om te plant en as jy 'n steggie van 'n vriendin kan kry, steek dit in 'n pot of in jou tuin in 'n sonnige plekkie en jy sal nooit weer daarsonder wees nie! Dit stoot gereeld klein plantjies uit en binnekort sal jou plant 'n groot bos wees, sommer so 'n halwe meter in omtrek.

.
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...