Thursday, 20 October 2016

Kaalvoet in die reƫn


Na die eerste heerlike reƫn van die seisoen, is dit vandag 'n pragtige blou, koel somersdag en my gedagtes gaan terug na my jong dae in die laat 1950's toe ons as kinders na elke reƫnbui buite in die waterpoele gaan speel het, kaalvoet en sonder sorge. Uitbundig gelag en mekaar met die water bespat en dit het nie saak gemaak dat ons vol modder geword het of dat ons klere besmeer was nie (daar was mos ordentlike "Surf" in daardie dae) - en in daardie dae is ons gedurig aangemoedig om buite te gaan speel.
.


En eintlik het ons nie 'n ander keuse gehad nie - geen TV, geen rekenaars en geen selfone of X-box nie, ons moes ons self vermaak. Hop-skotch, kennetjie, leap frog, draadkarretjies wat ons self gemaak het en rond gestoot het op "dorpstrate" wat ons in die sand gemaak het, vlieƫrs gevlieg, bome geklim en gespeel ons is Tarzan, veldblommetjies bymekaar gemaak om huistoe te vat vir Ma is maar 'n paar van die goed waarmee ons onsself besig gehou het.



En dis hoe ek vroeg vanoggend gevoel het, lus om kaalvoet in die poele water te plas. Of 'n vlieƫr in die sterk briesie te vlieg. Ek het my pantoffels in die huis gelos en kaalvoet oor die gras geloop na die reƫnmeter om te sien hoeveel ons gehad het. Gisteraand se stormagtige 28mm reƫn het die aarde goed gedoen, en my siel ook. Dis sommer asof al die spinnerakke weg gewas is tesame met die verskriklike hitte wat ons die afgelope weke ondervind het. Die dor aarde verdor sommer jou menswees ook, maak dat jy lus is vir niks. Ek kon aan niks kom nie en was net so verlep soos my Krismisrose. Maar nou staan hulle almal weer regop, verfris na daai hemelse water en

Ek wil dans
kaalvoet in die reƫn.
wil die druppels tel
een vir een.
Die reuk van grond nat,
water wat teen die ruite spat.
Die weer se gedonder,
God se wonder.
Dan raak dit binne stil,
en laat die prag
die leemte vul.
Weg al die kommer
en seer
dan breek die strale deur.
Aangehuppel
oor die laaste druppel.
Dit lag binne my
skoongewas en vry!
-

Tuesday, 27 September 2016

Die winter is verby!

'n skets van Lobelias in 'n hangmandjie - GeĆ­nspireer deur een van Cathy Johnson se sketse
.
Na die koue, lang winter, is dit tyd dat die natuur weer lewe kry. Die kort dae is nou langer en die perskebloeisels en groen gras begin oorneem. Van Lente was daar omtrent geen sprake nie en nou is dit Somer. Somer is buite-wees tyd. Sorgelose ure. Lang slenterstappe in die skemer se soeltes en ‘n braai onder gesellige sterre. Somer is groei – my kappertjies wat begin blom, vinkneste word gebou, klein voĆ«ltjies wat leer vlieg. 

Baie van my Kappertjies het dit deur die winter gemaak!

Nuwe lewe in die tuin! Die Rooiborsduif het 3 babatjies so vroeg in die seisoen.

Maar Somer het ook sy slegte kant. Dis ‘n tyd van lastige vlieĆ« en muskiete, veral muskiete wat my hoenders byt en hoenderpokkies veroorsaak. Ek haat gifstowwe, maar vir muskiete en rotte het ek geen genade nie. Baie maal styg my irritasie vlakke saam met die temperatuur – enige iets hier oor 28℃ en ek sluit myself toe in my ateljee met die lugverfrisser op ‘n sterk 16℃. Stappies in die veld word gereĆ«l vir vroeg-oggend of skemer en die strand besoek ek net in die winter, wanneer die temperatuur gewoonlik so ‘n matige 23℃ is.
Maar wanneer alles eers begin blom en groen word, dan is die somer die moeite werd!


Saturday, 17 September 2016

Dis heerlike lente! ♪ ♪ ♪ ♪♪♪

Dis heerlike lente! ♪ ♪ ♪ ♪♪♪ Die winter's verby!


En uiteindelik is my tuin wakker! Die eerste tekens dat winter aan’t einde was, was die Clivias wat begin blom het, gevolg deur omtrent al die vetplantjies, elkeen so bly dat dit lente is!

Pleiospilos nelli – blom vir die eerste maal sedertdien ek dit in Februarie 2015 aangeskaf het.

 Al wat 'n vetplantjie is, sing van plesier!

Dit Rotstert-kaktus (Rattail cactus - Aporocactus flagelliformis) bars somtrent uit sy nate uit met nuwe blomme

Die pragtige blom van Aporocactus flagelliformis

 Mammillaria kaktus met sy ring-kroon blommetjies

Een van my Echeveria imbricata doen 'n ongewone ding hierdie jaar - haar blommetjies is geel in plaas van oranje en 'n nuwe "babatjie" sit aan 'n lang stingel in plaas van langs die plant. Dit word "sporting" genoem en die Engelse verduideliking is as volg : A sport in the plant world is a genetic mutation that results from a faulty chromosomal replication. The results of the mutation are a segment of the plant that is distinctly different from the parent plant in both appearance (phenotype) and genetics (genotype). The genetic change is not a result of unusual growing conditions; it is an accident, a mutation. In many cases the new trait can be handed down to the organism’s offspring.

Ek gaan die babatjie pluk en dit plant en hopelik sal ek dan nog Echeverias met geel blomme hĆŖ!  


Thursday, 8 September 2016

‘n Eko-vriendelike tuin


Wanneer laas kon jy ‘n skoenlapper se pragtige kleure bewonder? Of 'n by waar hy naarstigtelik besig is om stuifmeel bymekaar te maak? Lanklaas? Waarskynlik, want deesdae word alles mos bespuit met al wat gif is. Selfs heuningbye word bedreig.

Help 'n by in nood!

Waarvan ons en ons nageslag gaan lewe as heuningbye en skoenlappers van die aarde af verdwyn, is ‘n ope vraag. Naas water en suurstof, is bye en skoenlappers onmisbaar vir oorlewing, want daar is niks wat die bestuiwingsfunksie so kan vervul nie, en niemand kan daardie funksie by hulle oorneem nie. Die goeie nuus is dat ons kan tuinmaak om skoenlappers en bye te lok. Omdat die huidige habitats en voedselbronne minder word, moet ons bestaande bye-vriendelike plante beskerm en in stand hou deur meer bye-vriendelike plante aan te plant.


Hoewel bloekombome indringers kan wees, is hulle baie belangrik as 'n voedselbron vir ons inheemse bye. Die doel is om, deur goeie bestuur, bloekombome te behou as voedselbron vir ons bye. Grondeienaars moet die spesies en ligging van bloekombome op hul plase identifiseer. DiƩ sonder bloekombome kan dit oorweeg om sekere nie-genoteerde spesies (bv.E. ficifolia of E. gomphocephala) te plant waar hulle nie waterbronne bedreig of 'n indringingsgevaar stel nie.


In ‘n eko-vriendelike tuin is daar nie plek vir insektedoders nie. Of dit nou ‘n kontakdoder of ‘n sistemiese middel is, los dit. Aan die begin sal dit dalk moeilik wees, want die natuurlike vyande sou lankal die wyk geneem het omdat daar nie kos is nie. Ek kan nie onthou wanneer laas ek insekdoders in my tuin gebruik het nie. Nou die oggend sit ek en luister na die voĆ«lgeluide. Ek besef toe dis omdat ek nie meer gif spuit nie dat hier meer goggas is, en omdat hier meer goggas is, is hier meer voĆ«ltjies, want hier is genoeg kos om te oorleef en kleintjies groot te maak.
 
Wanneer daar insekte in jou tuin is, is daar liefde in die lug! In die insekwĆŖreld word klanke en geure dikwels gebruik om ’n maat te vind—wat nie ’n maklike taak is as jou lewensduur net ’n paar weke is en daar maar min voornemende maats in die omgewing is nie.

Insekte speel ’n noodsaaklike rol in ons daaglikse lewe. Trouens, ongeveer 30 persent van die voedselsoorte wat ons eet, is afhanklik van bestuiwing deur bye, waarvan die meeste wilde bye is. Maar bestuiwing is net een van die nuttige take wat insekte verrig. Insekte hou die aarde skoon deur middel van ’n doeltreffende herwinningstelsel wanneer hulle dooie plant- en dieremateriaal in bruikbare vorme omsit. Sodoende word die grond vrugbaarder gemaak, en voedingstowwe wat vrygestel word, kan dinge laat groei.

Wyfiepouoogmotte vind ’n maat deur ’n reuk af te skei wat so sterk is dat ’n mannetjie byna 11 kilometer daarvandaan die wyfie kan vind. Sy sensitiewe voelers kan ’n enkele molekule van die reuk waarneem.
Krieke, sprinkane en sonbesies verkies om hulleself hoorbaar te maak. Selfs die mens kan die minnesang van die sonbesie hoor wanneer hy sy hele liggaam in ’n klankbord verander. ’n Groot groep sonbesies wat besig is met hofmakery, kan meer geraas as ’n lugboor maak!

Drolpeer - Dombeya rotundifolia - foto vanaf Veldwagter

Halleria lucida langs 'n ou stomp en Vuurpyle
Maar dit gaan nie net oor die gebruik van gifstowwe nie. Ons kan heelwat doen om ons tuine meer aanloklik vir die veervolk te maak. Daar is heelwat plante wat veral skoenlappers kan terug lok tuin toe, soos die Koraalboom (Erythrina lystemon), die Notsung, ook genoem Fuschia, (Halleria lucida), en die Drolpeer (Dombeya rotundifolia). ‘n Goeie keuse vir tussen klippe of op ‘n rotstuin is die Crassula perfoliata. Ander plante is die Sonbekkiebos (Metarungia longistrobus), Fynblaarrooihout (Ochna serrulata), en die Wilde-pynappel (Eucomis Comosa, Eucomis autumnalis en die Eucomis humilis).

Al die vuurpyle (Kniphofia) variƫteite, Makhaya bella, Freylinia tropica, Juncus effesus en selfs die Varkoor wat hou van skaduwee en baie water.

Geniet die skoenlappers wat terugkom en onthou -- ‘n ruspe is net ‘n skoenlapper wat nog nie vlerke gekry het nie!

- Sommige van die inligting vanaf 'Kormorant' 

.

Tuesday, 12 July 2016

Aloe ferox (Bitter aalwyn)


Aloe ferox, die Kaapse aalwyn, is ‘n inheemse plant van Suider Afrika. Dit word in die Suid Kaap, Oos Kaap en suidelike gedeelstes van KwaZulu/Natal, Vrystaat en Lesotho aangetref. Hier in Gauteng groei hulle taamlik goed indien hulle in vol son is en daar nie sterk ryp in die winter is nie, wanneer dit hul blomtyd is.

Die plant blom vanaf Mei tot September en is ’n stadige groeier met ’n enkel stam en dik, doringrige, vlesige blare en buisvormige, oranje-rooi blomme. Dit is ’n uitstekende struik vir die rotstuin en verkies vol son en matige water. Die sap van die blare word vir medisyne en skoonheidsprodukte gebruik. 

Die blaar van die Aloe ferox plant bevat twee verskillende sappe, nl. geel bitter sap en wit aalwynjel. Albei die sappe is heilsaam vir die liggaam en word uitwendig sowel as inwendig gebruik. Die bitter sap is direk onder die groen skil geleĆ« en is in werklikheid nog deel van die skil. Wanneer ‘n blaar van die plant afgesny word vloei hierdie geel bitter sap spontaan uit die blaar uit. Wanneer die bitter sap gekonsentreer word, word bitter kristalle of bitter poeier gevorm. Die binneste vlesige deel van die blaar is jellierig en bestaan uit ‘n wit slymerige sap wat aalwynjel genoem word. Aalwynjel is nie bitter nie.


Die saad word deur voƫls en die wind versprei en groei maklik net waar dit val. In die onderste foto lyk dit of ek al die aalwyne so in 'n ry geplant het, maar ek het 'n spesmaas sade van my ander drie groot aalwyne na links het hierheen gespoel, dalk met reƫnwater, aangesien dit effens afdraend is. Binnekort sal ek hulle moet uitdun en 'n sonnige plekkie vir hulle soek.

.
My ander drie Aalwyne verlede winter

VroeĆ« Koloniste is deur die Khoi geleer dat die sap van die blare gebruik kan word as ’n wond-beskermer. Die blare se sap is ook gebruik om brandplekke te behandel, en om inwendige en uitwendige parasiete by honde en beeste te verwyder. Afrika-stamme wend die sap aan as behandeling vir sere. Die sap is ’n sterk purgeermiddel vir beide mens en dier. A heerlike konfyt kan ook van die blare gemaak word. Vandag word die Bitter-aalwyn in verskeie vorme gevind, onder andere in pille en smeermiddels. Dit is kommersieel belangrik as ’n lakseermiddel, en word gebruik in talle gewilde mengsels.




Saturday, 11 June 2016

Rustyd vir my en die tuin


Dis winter en my tuin rus, behalwe vir die aalwyne en vetplante wat nou almal blom. Meeste van my vetplante wat in potte is, is in die huis ingebring vir die winter en net 'n paar wat ek dink gehard genoeg is, is nog buite. Vir party is dit hul eerste winter buite, so ek hou styf duimvas!


Die Crassula imperialis hier bo geniet die winter son en kan jy glo daar is 'n paadjie daar binne ĆŖrens? Dis een ding van as die tuin rus, dan rus ek ook en as ek weer kyk, het moeder natuur alles toe gegroei!

Hierdie Aalwyn (A. zebrina) het die mooiste koraalpienk blomme aan lang stingels en wanneer hulle klaar geblom het hierdie jaar, wil ek die sade versamel en nog van hulle plant. Hierdie is een van die min aalwyne wat nie omgee om in die koelte te groei nie.


Sover is al die Swaardvarings nog groen en ek hoop net nie ons kry erg ryp nie, want dan sal al my groenigheid weg wees.


Die afgelope somer het my grasperk (wat ek nog steeds beplan om te verminder!) mooi gegroei, maar die winter (en die rysmiere!) het al klaar hul merk gelos. Net duskant die kamera op die onderste foto is die grasperk vol kaal kolle waar die rysmiere hul skade aanrig. En daar's nie veel wat mens kan doen nie. Volgens die Koƶperasie help gif-korrels wat gestrooi moet word nie (iets wat ek buitendien NOOIT in my tuin gebruik nie) aangesien net kontak-gif op rysmiere werk. En dis 'n onmoontlike saak, want hulle is almal diep onder die grond in hul nes. Dis 'n probleem waaraan ek nog werk...


Aalwyn (A. ferox)

Aalwyn ferox in volle blom

Aalwyn striatula se blomme

Aalwyn zebrina in volle blom

::

Wednesday, 17 February 2016

Wat 'n tuin nodig het

'n Tuin benodig geduld, werk en aandag. Plante groei nie net met ambisie en goeie bedoelings nie. Hulle floreer omdat iemand tyd aan hulle bestee het.

Om 'n tafel in die tuin te dek is 'n daad wat die tuin vier, wat wys dat jy haar skoonheid waardeer en dat jy dankbaar is vir haar oorvloed.

Daar is ietsie uiters bevredigend omtrent 'n bos wortels met die blare nog aan. Dalk is dit die gedagte van hulle uit die grond trek...


::
 

Tuesday, 9 February 2016

Hawerwortel - Salsify


Het jy al ooit van “hawerwortel” gehoor? In Engels is dit Salsify (Tragopogon porrifolius), ’n wortelgroente wat deel is van die perdeblom-familie (Dandelion). Hierdie groentesoort word deur baie mense as onkruid beskou en ek het dieselfde gedink toe ek dit in my tuin ontdek het. Dit is oorspronklik inheems aan die Mediterreense gebiede maar het al oral oor die wĆŖreld versprei.

Hawerwortel lyk baie soos die Perdeblom (Dandelion), maar die saadbol is amper 10 maal groter as diĆ© van die Perdeblom. En dit word 120 cm hoog, anders as die laag-groeiende Dandelion.

Hawerwortel staan ook bekend as die “oesterplant”, omdat diĆ© wortel, wanneer gaar, se smaak aan oesters herinner. DiĆ© wat weet, sĆŖ ook dit smaak soos aspersies of artisjokke, met ’n klapper-nasmaak.

Die blom van Hawerwortel voor dit sade vorm.

Die wortels lyk amper soos lang, dun witwortels (parsnips) met romerige wit vleis en ’n dik, bruin skil. Hawerwortel kan geskil, gekook en fyngemaak word en ook in soppe en bredies gebruik word. Skil die wortels, stoom vir 15 tot 30 minute en braai dan in 'n bietjie botter.



DiƩ groente is nie algemeen in Suid-Afrikaanse supermarkte of groentewinkels beskikbaar nie, maar dit is maklik om dit in jou groentetuin te kweek. Die beste tyd om dit te plant is van Maart tot Mei en in September. Pas-maats vir hawerwortel in jou groentetuin is wortels, blaarslaai, spinasie, bone en andyvie.

Lees meer hier oor hierdie groentesoort.



Friday, 5 February 2016

Aartappel-water vir jou plante

Hou die water waarin jy aartappels of pasta kook. Stysel-water moedig die grond aan om voedingstowwe af te skei. Maar moenie soutwater gebruik nie aangesien dit die plante skade kan doen.

Saturday, 30 January 2016

My tuin - ’n dieretuin!


’n Tuin - 'n plek waar jy kan rus in vrede, ontkoppel van eksterne probleme en bekommernisse. 'n Tuin vol bome en baie voĆ«ltjies.  ’n Tuin vol skoenlappers, besies, bye en allerhande ander insekte!

Maak jou tuin ’n lushof vir al ons geveerde vriende, insekte en allerhande klein soogdiertjies. Plant inheems, voorsien kos, beskutting en water en beleef jou eie klein paradys! 

Resepte vir voƫltjiepoeding - Voƫls sal heerlik hieraan smul . . .

1. Maak sowat 450 g kookvet in ’n pan warm sodat dit sag kan word. Meng dit met 1 k warm water, 2 k hawermout, 1 k meel en 4 k voĆ«lsaad en plaas in jou voĆ«ltjievoerder.

2. Plaas 1-2 k kookvet in ’n bakkie saam met heuning en uitgebraaide brokkies spekswoerd. Laat die bakkie in warm water staan. Voeg droĆ« broodkrummels of voĆ«l­saad by wanneer die vet begin smelt. Roer die mengsel en vorm in ’n bol. Plaas in ’n houer en laat dit afkoel en styf word. Plaas dit in ’n stuk netmateriaal – die net waarin ’n mens uie of aartappels koop, werk goed – en hang dit in die tuin op.

Ek sien ‘n tuin so wonderskoon:
‘n Tuin waarin daar liefde woon,
Waarin die fraaiste blomme groei,
En waar die mooiste bloeisels bloei.

Uittreksel van Die Tuin van Geluk, geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 25 April 1942

Swartkop Wielewaal (Black-headed Oriole - Oriolus larvatus)

Janfrederik - Cape Robin-chat (Cossypha caffra)

'n Verkleurmannetjie - ek sien hulle nie meer gereeld genoeg nie!
Die Swartkeelgeelvinke besig met nesbou - Masked weaver (Ploceus velatus)
Nuwe lewe in die tuin
'n Jong Fiskaallaksman - die ouers het hierdie somer al twee broeisels gehad - Fiscal Shrike (Lanius collaris)
Ek is altyd bly wanneer die Grys Loeries kom kuier! Grey Lourie (Corythaixoides concolor)
Gevlekte lyster - Groundscraper thrush (Psophocichla litsitsirupa)
Harig of stekelrige larwes van 'n mot of skoenlapper aan die basis van my Soetdoringboom
Hottentosgotte is ALTYD welkom! (Praying mantis)
'n Ongewone besoeker aan my tuin - Ringnekparakiet (Indian ringneck parrot) - Hy het hom verlustig aan die sonneblomsade, brood en vrugte
Geelbeklyster (Karoo Thrush - Turdus smithi)
'n Baba Mynah. Die ouers is nie baie welkom in my tuin nie! (Acridotheres tristis)
'n Baba Wawielwebspinnekop (Orb-web spider), net so 3cm vanaf die tip van haar voorpote tot die tip van die agterpote
Rooivlerkspreeu - Redwinged Starling (Onychognathus morio)
Streepmuis - Striped Grass mouse (Rhabdomys pumilio) - welkom in my tuin maar NIE in die huis nie!
Vir die eerste maal in jare het die Tarentale weer my tuin besoek! Guinea fowl (Numida meleagris)
Koringvoƫl - White-browed Sparrow Weaver (Plocepasser mahali)

Hoop jy geniet hierdie somer jou eie klein paradys!

.
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...