Dinsdag 12 Julie 2016

Aloe ferox (Bitter aalwyn)


Aloe ferox, die Kaapse aalwyn, is ‘n inheemse plant van Suider Afrika. Dit word in die Suid Kaap, Oos Kaap en suidelike gedeelstes van KwaZulu/Natal, Vrystaat en Lesotho aangetref. Hier in Gauteng groei hulle taamlik goed indien hulle in vol son is en daar nie sterk ryp in die winter is nie, wanneer dit hul blomtyd is.

Die plant blom vanaf Mei tot September en is ’n stadige groeier met ’n enkel stam en dik, doringrige, vlesige blare en buisvormige, oranje-rooi blomme. Dit is ’n uitstekende struik vir die rotstuin en verkies vol son en matige water. Die sap van die blare word vir medisyne en skoonheidsprodukte gebruik. 

Die blaar van die Aloe ferox plant bevat twee verskillende sappe, nl. geel bitter sap en wit aalwynjel. Albei die sappe is heilsaam vir die liggaam en word uitwendig sowel as inwendig gebruik. Die bitter sap is direk onder die groen skil geleë en is in werklikheid nog deel van die skil. Wanneer ‘n blaar van die plant afgesny word vloei hierdie geel bitter sap spontaan uit die blaar uit. Wanneer die bitter sap gekonsentreer word, word bitter kristalle of bitter poeier gevorm. Die binneste vlesige deel van die blaar is jellierig en bestaan uit ‘n wit slymerige sap wat aalwynjel genoem word. Aalwynjel is nie bitter nie.


Die saad word deur voëls en die wind versprei en groei maklik net waar dit val. In die onderste foto lyk dit of ek al die aalwyne so in 'n ry geplant het, maar ek het 'n spesmaas sade van my ander drie groot aalwyne na links het hierheen gespoel, dalk met reënwater, aangesien dit effens afdraend is. Binnekort sal ek hulle moet uitdun en 'n sonnige plekkie vir hulle soek.

.
My ander drie Aalwyne verlede winter

Vroeë Koloniste is deur die Khoi geleer dat die sap van die blare gebruik kan word as ’n wond-beskermer. Die blare se sap is ook gebruik om brandplekke te behandel, en om inwendige en uitwendige parasiete by honde en beeste te verwyder. Afrika-stamme wend die sap aan as behandeling vir sere. Die sap is ’n sterk purgeermiddel vir beide mens en dier. A heerlike konfyt kan ook van die blare gemaak word. Vandag word die Bitter-aalwyn in verskeie vorme gevind, onder andere in pille en smeermiddels. Dit is kommersieel belangrik as ’n lakseermiddel, en word gebruik in talle gewilde mengsels.




Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...