Tuesday, 27 September 2016

Die winter is verby!

'n skets van Lobelias in 'n hangmandjie - Geínspireer deur een van Cathy Johnson se sketse
.
Na die koue, lang winter, is dit tyd dat die natuur weer lewe kry. Die kort dae is nou langer en die perskebloeisels en groen gras begin oorneem. Van Lente was daar omtrent geen sprake nie en nou is dit Somer. Somer is buite-wees tyd. Sorgelose ure. Lang slenterstappe in die skemer se soeltes en ‘n braai onder gesellige sterre. Somer is groei – my kappertjies wat begin blom, vinkneste word gebou, klein voëltjies wat leer vlieg. 

Baie van my Kappertjies het dit deur die winter gemaak!

Nuwe lewe in die tuin! Die Rooiborsduif het 3 babatjies so vroeg in die seisoen.

Maar Somer het ook sy slegte kant. Dis ‘n tyd van lastige vlieë en muskiete, veral muskiete wat my hoenders byt en hoenderpokkies veroorsaak. Ek haat gifstowwe, maar vir muskiete en rotte het ek geen genade nie. Baie maal styg my irritasie vlakke saam met die temperatuur – enige iets hier oor 28℃ en ek sluit myself toe in my ateljee met die lugverfrisser op ‘n sterk 16℃. Stappies in die veld word gereël vir vroeg-oggend of skemer en die strand besoek ek net in die winter, wanneer die temperatuur gewoonlik so ‘n matige 23℃ is.
Maar wanneer alles eers begin blom en groen word, dan is die somer die moeite werd!


Saturday, 17 September 2016

Dis heerlike lente! ♪ ♪ ♪ ♪♪♪

Dis heerlike lente! ♪ ♪ ♪ ♪♪♪ Die winter's verby!


En uiteindelik is my tuin wakker! Die eerste tekens dat winter aan’t einde was, was die Clivias wat begin blom het, gevolg deur omtrent al die vetplantjies, elkeen so bly dat dit lente is!

Pleiospilos nelli – blom vir die eerste maal sedertdien ek dit in Februarie 2015 aangeskaf het.

 Al wat 'n vetplantjie is, sing van plesier!

Dit Rotstert-kaktus (Rattail cactus - Aporocactus flagelliformis) bars somtrent uit sy nate uit met nuwe blomme

Die pragtige blom van Aporocactus flagelliformis

 Mammillaria kaktus met sy ring-kroon blommetjies

Een van my Echeveria imbricata doen 'n ongewone ding hierdie jaar - haar blommetjies is geel in plaas van oranje en 'n nuwe "babatjie" sit aan 'n lang stingel in plaas van langs die plant. Dit word "sporting" genoem en die Engelse verduideliking is as volg : A sport in the plant world is a genetic mutation that results from a faulty chromosomal replication. The results of the mutation are a segment of the plant that is distinctly different from the parent plant in both appearance (phenotype) and genetics (genotype). The genetic change is not a result of unusual growing conditions; it is an accident, a mutation. In many cases the new trait can be handed down to the organism’s offspring.

Ek gaan die babatjie pluk en dit plant en hopelik sal ek dan nog Echeverias met geel blomme hê!  


Thursday, 8 September 2016

‘n Eko-vriendelike tuin


Wanneer laas kon jy ‘n skoenlapper se pragtige kleure bewonder? Of 'n by waar hy naarstigtelik besig is om stuifmeel bymekaar te maak? Lanklaas? Waarskynlik, want deesdae word alles mos bespuit met al wat gif is. Selfs heuningbye word bedreig.

Help 'n by in nood!

Waarvan ons en ons nageslag gaan lewe as heuningbye en skoenlappers van die aarde af verdwyn, is ‘n ope vraag. Naas water en suurstof, is bye en skoenlappers onmisbaar vir oorlewing, want daar is niks wat die bestuiwingsfunksie so kan vervul nie, en niemand kan daardie funksie by hulle oorneem nie. Die goeie nuus is dat ons kan tuinmaak om skoenlappers en bye te lok. Omdat die huidige habitats en voedselbronne minder word, moet ons bestaande bye-vriendelike plante beskerm en in stand hou deur meer bye-vriendelike plante aan te plant.


Hoewel bloekombome indringers kan wees, is hulle baie belangrik as 'n voedselbron vir ons inheemse bye. Die doel is om, deur goeie bestuur, bloekombome te behou as voedselbron vir ons bye. Grondeienaars moet die spesies en ligging van bloekombome op hul plase identifiseer. Dié sonder bloekombome kan dit oorweeg om sekere nie-genoteerde spesies (bv.E. ficifolia of E. gomphocephala) te plant waar hulle nie waterbronne bedreig of 'n indringingsgevaar stel nie.


In ‘n eko-vriendelike tuin is daar nie plek vir insektedoders nie. Of dit nou ‘n kontakdoder of ‘n sistemiese middel is, los dit. Aan die begin sal dit dalk moeilik wees, want die natuurlike vyande sou lankal die wyk geneem het omdat daar nie kos is nie. Ek kan nie onthou wanneer laas ek insekdoders in my tuin gebruik het nie. Nou die oggend sit ek en luister na die voëlgeluide. Ek besef toe dis omdat ek nie meer gif spuit nie dat hier meer goggas is, en omdat hier meer goggas is, is hier meer voëltjies, want hier is genoeg kos om te oorleef en kleintjies groot te maak.
 
Wanneer daar insekte in jou tuin is, is daar liefde in die lug! In die insekwêreld word klanke en geure dikwels gebruik om ’n maat te vind—wat nie ’n maklike taak is as jou lewensduur net ’n paar weke is en daar maar min voornemende maats in die omgewing is nie.

Insekte speel ’n noodsaaklike rol in ons daaglikse lewe. Trouens, ongeveer 30 persent van die voedselsoorte wat ons eet, is afhanklik van bestuiwing deur bye, waarvan die meeste wilde bye is. Maar bestuiwing is net een van die nuttige take wat insekte verrig. Insekte hou die aarde skoon deur middel van ’n doeltreffende herwinningstelsel wanneer hulle dooie plant- en dieremateriaal in bruikbare vorme omsit. Sodoende word die grond vrugbaarder gemaak, en voedingstowwe wat vrygestel word, kan dinge laat groei.

Wyfiepouoogmotte vind ’n maat deur ’n reuk af te skei wat so sterk is dat ’n mannetjie byna 11 kilometer daarvandaan die wyfie kan vind. Sy sensitiewe voelers kan ’n enkele molekule van die reuk waarneem.
Krieke, sprinkane en sonbesies verkies om hulleself hoorbaar te maak. Selfs die mens kan die minnesang van die sonbesie hoor wanneer hy sy hele liggaam in ’n klankbord verander. ’n Groot groep sonbesies wat besig is met hofmakery, kan meer geraas as ’n lugboor maak!

Drolpeer - Dombeya rotundifolia - foto vanaf Veldwagter

Halleria lucida langs 'n ou stomp en Vuurpyle
Maar dit gaan nie net oor die gebruik van gifstowwe nie. Ons kan heelwat doen om ons tuine meer aanloklik vir die veervolk te maak. Daar is heelwat plante wat veral skoenlappers kan terug lok tuin toe, soos die Koraalboom (Erythrina lystemon), die Notsung, ook genoem Fuschia, (Halleria lucida), en die Drolpeer (Dombeya rotundifolia). ‘n Goeie keuse vir tussen klippe of op ‘n rotstuin is die Crassula perfoliata. Ander plante is die Sonbekkiebos (Metarungia longistrobus), Fynblaarrooihout (Ochna serrulata), en die Wilde-pynappel (Eucomis Comosa, Eucomis autumnalis en die Eucomis humilis).

Al die vuurpyle (Kniphofia) variëteite, Makhaya bella, Freylinia tropica, Juncus effesus en selfs die Varkoor wat hou van skaduwee en baie water.

Geniet die skoenlappers wat terugkom en onthou -- ‘n ruspe is net ‘n skoenlapper wat nog nie vlerke gekry het nie!

- Sommige van die inligting vanaf 'Kormorant' 

.
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...